Registrasie
Soos ek hier sit en dit skryf is ek seker my bloeddruk is besig om te klim. Die registrasieprosedure van die Locost (of enige opgeboude motor) is nou al vir meer as twee maande aan die gang! Neem in ag dat met ʼn 09:00 tot 17:00 werk dit nie altyd maklik is om na al die plekke tydens die regte ure te gaan nie wat die proses net verder uitrek en mens se geduld tot die uiterste toets.
Ons sal julle die besonderhede spaar, maar elke tweede plek wat jy besoek, of na gestuur word, verwys hulle jou terug na die vorige plek of vertel vir jou die teenoorgestelde storie. Byvoorbeeld, in Stellenbosch bestaan die verkeersdepartement uit onder meer ook die afdeling waar jy voertuie kan registreer (motorvoertuigregistrasie en -lisensiëring).
Dit is nie die geval in Kaapstad nie, en dit was ʼn twee ure fout wat mens maak voor jy by die regte afdeling eindig. Dan praat ek nie eers van al die kere wat jy van letterlik bakboord na stuurboord gestuur word nie. Ook, elke keer as jy die motor moet neem na die polisie of ʼn bevestigings-sertifikaat van ʼn padwaardigheidsentrum moet kry, moet jy ʼn tydelike lisensie uitneem. Hierdie permit is net geldig vir drie dae en jy mag net drie sulke lisensies uitneem, heeltemal te min om alles af te handel.
Ons druk wel deur. Soos sake nou staan is meeste van die administrasie afgehandel. Die grootste gedeelte van die dokumente is ingedien by die motorvoertuigregistrasie en lisensiëringsdepartement. Hulle moet dit op die nasionalestelsel laai en sal dan laat weet as dit goedgekeur is.
Daarna moet ʼn RPC-vorm van hulle gekry word asook ʼn vierde tydlike voertuiglisensie (waarvoor daar gesmeek sal moet word!) om die motor, blykbaar, vir die laaste keer na die polisie te neem vir finale goedkeuring en registrasie. Dan, laastens moet sy padwaardigheidstoets gedoen word om die sertifikaat te kry. Dan eers kan hy finaal geregistreer word. Lank beskryf nie die helfte van hierdie proses nie!
Op die pad
Hoewel ons nog net die Locost vir kort tydjies kon bestuur het dit ons begin opwarm vir die jaar wat voorlê met hierdie Lotus 7 replika. Ek het die Locost een aand huis toe geneem na Stellenbosch. Dit is slegs 50 km van WIEL se kantore, maar dit was tog heel genotvol om laat middag jou valhelm aan te trek en die verkeer aan te durf met die Locost.
Ek het myself gevang dat jy elke keer wag vir ʼn lekker skerp draai, ongelukkig is daar slegs ʼn paar tussen ons huis en die werk. Die volgende oggend is ek na die industriële gebied waar ek self met letterspykers die onderstelnommer op die Locost geslaan het. Die polisie het gesê ek moet dit self laat doen, want as hulle dit doen gaan hulle ʼn ander onderstelnommer aan my moet uitreik.
Daar is selfs na die Spar gery om ʼn bietjie proviand aan te skaf (sien foto).
Pret
Dit is opmerklik hoe maklik daar met die Locost op die pad gespeel kan word. Dit is deels aan die bande te danke. Hy klou wel op ʼn ander manier as wat ʼn padmotor doen, maar met te skielike of skerp draai van die stuur en ook ʼn te gewillige regtervoet verloor die agter bande vinnig greep. Soos die massasertifikaat getoon het weeg die Locost slegs 580 kg, dus kan jy laat in die draaie rem en reageer hy vinnig as jy die stuur draai.
Odo
Hopelik sal die Locost voor die einde van die maand geregistreer wees en dan sal ons hom meer kan geniet en na sekere spesifieke paaie (bergpasse) neem om hom beter te leer ken. Hy het darem reeds 400 km op die odo, en ons begin hom so stadigaan harder ry, maar tot hy nie ʼn verdere 300 km gedoen het nie, vat ons dit rustig, relatief gesproke. – WL
*Bou jy ʼn Locost of ʼn soortgelyke motor? Moenie huiwer om ons te kontak en jou storie(s) te deel nie.