Die Kampioen van Kampioene-wedren wat Saterdag 11 April op George plaasgevind het, sal definitief nie net onthou word vir die weer wat pragtig saamgespeel het nie, maar ook vir die vuurwarm en opwindende wedrenne.
Die baan se goeie oppervlakte het waarskynlik baie tot laasgenoemde bygedra en het op deeglike voorbereiding gedui waarmee die organiseerders gelukgewens moet word.
In die Ontwikkelingsklas het niemand beter gejaag as Divan Weitz nie, maar die plaaslike jaers het ook pragtig vertoon en dis veral Nadia van Rensburg, Julian van Rensburg en Clarizka Opperman wat hier uitgestaan het.
Daniel Renison en Brent Barnard het verrigtinge in die Sestien Sestig-klas oorheers met Alex Bailey wat alreeds in die eerste uitdun met meganiese probleme moes tou opgooi. Van die George-jaers het Peet van der Merwe in die uitdunne die bestendigste gejaag en is beloon met 'n tweede wegspringposisie in die eindrondte. Hier moes hy egter die knie buig teen die oormag Golfies van die Baai en moes tevrede wees met 'n uiteindelike vyfde plek. Van der Merwe het later die aand 'n prys ontvang toe sy Ford Laser as die mooiste voertuig van die dag aangewys is terwyl Renison welverdiend as die Jaer van die Dag bekroon is.
Die wedrenne in die Omgeboude 2.1-klas was reg van die begin af 'n kokende affêre en die plaaslike manne het getoon waarom hulle so hoog aangeskryf word. Tokkie van Zyl se voertuig het hom vroeg alreeds in die steek begin laat en hy het dit oorgelaat aan Graham Ferreira, Braam Koen, Danie Botha en Neels van Rooyen om die res van die land se jaers die stryd aan te sê. Die ongeluksvoël het vir Curt Alchin en Jaco Aylward bloots gery, maar strawwe wedrenne is gejaag deur Nickey Koegelenberg en veral Jason Brink.
Ferreira het onstuitbaar gelyk in die uitdunne en het ook die eindrondte gewen, maar na 'n protesaksie vir 'n onwettige wyse van verbysteek, is hy deur die wedrenbeheerders afgeskuif na die tweede plek met Brink wat in die eerste posisie herstel is.
In die blitsvinnige Hitstjor-klas het Dewald de Villiers uiteindelik met die louere weggestap en in die proses met manne soos Piet Scheepers, Curt Alchin, Nickey Koegelenberg en Shawn Collins afgereken. Scheepers se groot Sierra het egter baie indruk gemaak.
Die Gemodifiseerde V8 klas het vir die opwindenste wedrenne van die dag gesorg en tot op die einde was niemand seker of dit die finesse van Elton Gillmer of die brute krag van Bennie Greyling gaan wees wat die knoop gaan deurhaak nie. Hierdie twee manne se tweestryd het die skare op hulle voete gehad en dan het veral Sydney van Rensburg en Daan de Waal ook nog gereeld hulle neuse tussen die voorlopers ingedruk.
Met slegs twee rondtes oor en met Greyling in die eerste posisie, het die noodlot dramaties toegetree toe Greyling se enjin orals olie begin uitspuit en hy noodgedwonge moes aftrek. Skrale troos vir Greyling was dat hy hiermee die Slegte Geluk trofee verower het, maar dit was 'n uitgeputte hoewel verligte Gillmer wat uiteindelik die wennerstrofee ingepalm het.
Uitslae:
Ontwikkelingsklas:
1ste Divan Weitz Victory Raceway
2de Nadia van Rensburg George Motorklub
3de Julian van Rensburg Oudtshoorn Motorklub
Sestien Sestigs:
1ste Daniel Renison Victory Raceway
2de Brent Barnard Victory Raceway
3de Malcolm Els Victory Raceway
Omgeboude 2.1's:
1ste Jason Brink PEOTR
2de Graham Ferreira George Motorklub
3de Braam Koen George Motorklub
Muggies:
1ste Muis Oosthuizen George Motorklub
2de Rayno Nel George Motorklub
Super Muggies:
1ste Arthur Schafer Worcester Motorklub
2de Charl Walters George Motorklub
3de Conrad Bothma George Motorklub
Klassieke V8's:
1ste Marius Joubert George Motorklub
2de Riaan Janse v Vuuren George Motorklub
3de Herman Neethling George Motorklub
Hitstjor-klas:
1ste Dewald de Villiers Tygerberg Raceway
2de Piet Scheepers PEOTR
3de Shawn Collins Border
OmgeboudeV8's:
1ste Elton Gillmer Victory Raceway
2de Sydney van Rensburg George Motorklub
3de Lodewyk Lotz Oudtshoorn Motorklub
Bygevoeg deur: Peet van der Merwe (George Motorklub) op 2009/05/14
Bygevoeg deur: Johan op 2009/05/07
Bygevoeg deur: Jimmy, Pretoria op 2009/04/29
Bygevoeg deur: Clarizka Opperman op 2009/04/28
Bygevoeg deur: Vuka C96 op 2009/04/28
Bygevoeg deur: Jacques Neveling, PEOTR op 2009/04/28
Bygevoeg deur: Peet van der Merwe op 2009/04/28
Bygevoeg deur: Gertie van Rensburg op 2009/04/24
Bygevoeg deur: Wynand op 2009/04/20