Jy weet hoe sekere dinge soms net ʼn bietjie uit plek uit voel, asof dit regtig nie daar hoort nie. Wel, tydens die Peugeot 3008-bekendstelling het ek hierdie sensasie twee keer ervaar.
Die eerste keer was toe die vliegtuig, waarin ons na Bitterwasser toe gevlieg het, heen en weer geskud en geswaai het terwyl die vlieënier mik vir ʼn klein grond-aanloopbaan – glad nie natuurlik nie. Die volgende, oomblikke later, toe Peugeot ons die sleutel van ‘n 3008 oorhandig en uitstuur op ʼn paar rowwe grond paaie.
Waar pas hy in?
Die Peugeot 3008 wat op die 308 se onderstel gemonteer is ʼn kruisvoertuig wat die gerieflikheid van ʼn MPV moet bied en die plesier van ʼn luikrug gee sonder om die vryheid van ʼn SUV te verloor. Dis tog net te veel gevra van een motor, is dit nie?
Eers die petrolenjin...
Hierdie samestelling het eintlik nie sleg gevaar op die grond paaie nie, die hantering was nie te sleg nie – behalwe nou en dan wat die agterkant ʼn bietjie wou swaai; maar dit is ook verstaanbaar. Die veerstelsel het ook redelike vertroue gekweek en het nie te veel gesukkel met die ongelyke paaie nie, wat ook oor ʼn paar dongas beskik het.
Die 1.6 THP petrolenjin met 115 kW en 240 Nm was die eerste motor vir die dag en was toegerus met onder meer leer sitplekke, ʼn 1,60 m2 glasdak en die voorruit vertoonstelsel (Heads-up display). Dit was laasgenoemde wat nie heeltemal goed by die motor pas nie. Die stelsel lyk eerstens of dit ʼn gedagte was wat aan die einde van die monteerlyn bygevoeg is. Dit word ook nie direk teen die voorruit weerkaats soos ander stelsels nie, maar word op ʼn aparte stukkie glas weerkaats. So wat word alles hier vertoon? Jou snelheid en tweedens jou tyd in sekondes wat jy agter die motor voor jou is. Jy kan ook stel en dan sal daar ʼn liggie flits as jy te naby gaan. In die sterk Namibiese son het al hierdie addisionele toerusting ook aan die binnekant van die voorruit weerkaats wat redelik irriterend was.
...en volgende was die turbodiesel.
Na die eerste stop het ons ʼn kans gekry om voertuie te ruil, die keer het ek die 2.0 liter HDi diesel met greepbeheer (Grip Control) uitprobeer. Die 2.0 HDi was nie toegerus met die leersitplekke of glasdak nie, wat ek wel gemis het. Ook nie die voorruit vertoonstelsel nie, maar daarsonder kon ek klaar kom.
Die 2.0 HDi met 110 kW en 340 Nm het net vir my meer gepas vir hierdie motor gevoel terwyl die spesiale Michelin-bande die motor meer stabiel op die grond paaie laat voel het. Kies die (opsionele) greepbeheerstelsel, en die bande kom standaard met die motor.
Soos ʼn kind met ʼn nuwe speelding was ek geïnteresseerd in die greepbeheerstelsel en sodra die volgende stuk grondpad verskyn het, het my hand klaar gejeuk om die knoppie te draai.
Greepbeheer
Op die sandstelling was dit duidelik dat die voor wiele bietjie meer spin om momentum te behou en te help dat die wiele nie in die sand vas spin nie. Is dit werklik nodig, want wanneer gaan jy werklik hierdie stelsel gebruik? Hierdie is slegs ʼn 4x2-aandryfstelsel. So, jy kan dalk ʼn goeie sand- of grondpad gaan ry, maar dit sal nie slim wees om te ver van die hoofpaaie af te dwaal nie.
Die greepbeheerstelsel ontneem ook die passasier van hul bekerhouer, en ons meen dat hierdie stelsel meer vir die Europese mark ontwikkel is. Hierdie stelsel het vyf stellings: standaard, sneeu, all-terrain, sand en ESP af. Om die sand-modus te demonstreer het ons oor ʼn klein duintjie gery – niks te ernstig nie, maar die stelsel het gewys dat dit tog werk.
Ek kan regtig nie dink dat iemand wat hierdie motor sou koop êrens naby so ʼn klein duintjie sou kom nie. Die sneeu-modus is vir my die beste deel van die stelsel want in Europa moet jy in die winter jou bande ruil, maar met hierdie spesiale modder en sneeu bande van Michelin en die greepbeheer hoef jy nie ander bande in die winter op te sit nie. Maar, hier in Suid Afrika glo ek ons sal dit eintlik nooit gebruik nie.
Prakties
Die ontwerp mag dalk nie vir almal geval nie (veral die gekompartementaliseerde neus) maar een ding wat die motor wel is, is prakties. Die 3008 het een van die slimste bagasieruime nóg. So goed dat dit die rede is hoekom ek hierdie motor kan aanbeveel.
Die kattebak het twee deure, een maak na bo en die ander na onder oop (soos ʼn Range Rover). Dan is daar die vloer van die bak wat op en af kan skyf om jou meer bagasieruimte te gee. Jy kan byvoorbeeld die vloer opskuif sodat jy goed makliker kan laai terwyl daar steeds baie ruimte onder is om goed soos skootrekenaars en skooltasse te versteek.
Die sitplekke slaan ook met die grootste gemak af om die bagasieruim van 512 dm3 na 1 604 dm3 te vergroot. Die area tussen die voorste passasiers beskik oor ʼn indrukwekkende 15 dm3 verkoelde kassie wat my 1,5 liter bottel water, ʼn Coke en ʼn 500 ml bottel water ingesluk het en dit redelik koud gehou het gedurende die drie uur rit.
Gevolgtrekking
Die Peugeot 3008 is ʼn eienaardige motor op sy eie manier. Hy mag dalk ʼn die akademiese reus wees met draaitjies, maar glo my, hy is intelligent. Onthou net, as jy die motor vir bietjie van ʼn avontuur gaan gebruik, kry tog net die greepbeheer, dit mag jou dalk net red. – PO
*Kyk uit binnekort vir ʼn volledige padtoets.
Spesifikasies:
1.6 THP
Enjin: 1.6 liter, viersilinder
Krag: 115 kW teen 6 000 r/min
Draaimoment: 240 Nm vanaf 1 400 r/min
0-100 km/h: 9,89 sek.
Topsnelheid: 202 km/h
Verbruik: 7.1 liter per 100 km
C0₂: 167 g/km
2.0 HDi
Enjin: 2.0 liter, viersilinder
Krag: 110 kW teen 3 750 r/min
Draaimoment: 340 Nm vanaf 2 000 r/min
0-100 km/h: 9,7 sek.
Topsnelheid: 195 km/h
Verbruik: 5,6 liter per 100 km
C0₂: 146 g/km
Bygevoeg deur: WIEL op 2010/02/10
Bygevoeg deur: Johan op 2010/02/09