Ons het die nuwe Range Rover in die Vrystaat gaan bestuur om uit te vind wat alles verander is aan hierdie 2010 model.
Ons het die nuwe Range Rover in die Vrystaat gaan bestuur om uit te vind wat alles verander is aan hierdie 2010 model.
Range Rover is amper so Brits soos haggis Skots is. As James Bond nie Aston Martins gery het nie, en Sean Connery deur Afrika moes reis sal hy verseker van ‘n Range Rover gebruik gemaak het.
Ek hoor hoe almal nou al skreeu dat daar talle luukse SUV’s is. Hier dink ons aan die BMW X5, Mercedes-Benz ML, Toyota Land Cruiser 200 en ook die Audi Q7. Maar die Range Rover is tot ‘n mate ‘n SUV wat eenkant staan. Wat 4x4 vermoë betref sal hy die Q7 en X5 agterlaat en bietjie later die ML.
Die kern idee van die Range Rover is om absolute gerief en gemak te bied maar terselfdertyd ook die kapasiteit te bied om te kan 4x4. Oor die laaste 39 jaar se ontwikkeling het Land Rover heelwat sukses gehad met hierdie motor en is hy tot ‘n mate uniek in die mark.
Die TDV8 enjin is onveranderd in die nuwe Range Rover en lewer nog 200 kW en 600 Nm. Hy word nou wel vir die eerste keer in die Chinese mark beskikbaar gestel. As versnelling nie vir jou uit en uit belangrik is nie, is hierdie enjin voldoende. Selfs met ‘n motor wat 2,7 ton weeg versnel hy redelik en is die rit baie rustig en egalige as jy eers op spoed is. Vergeet maar van die gekletter van ‘n dieselenjin, jy hoor niks nie. Range Rover se petrolverbruiksyfers (volgens EU-toetse) verskyn hier onder. Die gemiddeld daarvan weerspieël die syfer wat ons op die oop pad gekry het. Neem ook in ag dat ons meeste van die tyd redelik voet in die hoek gesit het.
Groter nuus is dat die Jaguar XFR se 5 liter enjin met ‘n drukaanjaer wat 375 kW en 625 Nm lewer nou ook hoog in die neus van die Range Rover te vinde is. Hiermee steek jy ander verkeer in ‘n japtrap verby terwyl jy hoog sit. Sien, dit is die waar die Range Rovers anders, jy sit so vrek hoog (jy voel amper soos ‘n koning op ‘n troon), maar dan het jy die versnelling van ‘n sportsedan.
Die enjinkalibrasie in die Range Rover is natuurlik heel anders as in die Jaguar en in die Range Rover word ook van ‘n ander ratkas gebruikgemaak.
Soos voorheen beskik die Range Rover oor goeie 4x4 vermoë en is hy daartoe in staat om meer as net ‘n vrag te sleep. Selfs die hakproses van ‘n boot of perdewa so maklik as moontlik vir die bestuurder gemaak met hulp van kameras en die feit dat die rekenaar sal stoor watter implement jy besig is om te hak.
Die veranderings op die 2010 Range Rover gaan eintlik meer oor die tegnologie as oor die enjin en verrigting. Kyk die vorige Range Rover met ‘n arendsoog deur, kyk dan na die nuwe een, en jy sal verstaan wat ons bedoel. Volgens Range Rover is hulle kliënte gelukkig met die ontwerp aan die buitekant en het Range Rover slegs ligtelik, of soos hulle dit noem, ‘juweliers’veranderinge aangebring. Soos ook die geval nou onlangs met die nuwe Mercedes-Benz S-Klas was, jy het meer as ‘n bladsy of twee nodig om alles te noem.
Soos voorheen is daar die mobiele kamera wat uit die paneelkissie gehaal kan word en amper enige plek op die motor vasgesuig kan word. Hierdie kamera saai dan direkte beeldmateriaal na die skerm in die binneruim uit.
Daar is ‘n totaal van vier kameras (voor, agter en een in elke kantspieël) wat ook beeldmateriaal wys op die sentrale skerm. Dit help met meer as net parkeer en jy kan na die beeldmateriaal kyk irrelevant watter snelheid jy beweeg. Ideaal vir rowwe 4x4-roetes as jy dalk nie ‘n passasier langs jou het nie.
Die sentrale skerm kan ook twee verskillende beelde bied vir beide die bestuurder en passasier. Sê byvoorbeeld dat die bestuurder die satellietnavigasie wil volg, maar die passasier wil ‘n DVD kyk, met die druk van ‘n knoppie is dit moontlik.
Die instrumentskerm vir die bestuurder is nou ‘n volle TFT-skerm (Thin Film Transistor). Volgens Land Rover is dit basies soos ‘n skootrekenaar se skerm. Dus, die toereteller, snelheidswyser asook al die inligting sodra jy Land Rover se Terrain Response-stelsel begin gebruik word op hierdie skerm vertoon.
Kyk maar op die foto’s, daar is baie knoppies op die stuurwiel en in die binneruim wat maak dat hierdie SUV gelaai is met tegnologie en gemak. Tog, as jy ‘n koper is sal jy dit binne ‘n week of twee leer en pouses, tussen jou leerproses sal jy jou bottel water uit die verkoelde middelste paneelkissie kan haal.
Spesifikasies: (volgens vervaardiger)
Range Rover TDV8
Enjin: 3,6 liter turbodiesel
Krag: 200 kW
Draaimoment: 640 Nm
0-100 km/h: 9,2 sekondes
Topsnelheid: 200 km/h
Petrolverbruik: 11,1 liter per 100 km
CO²-uitlate: 348 g/km
Prys: R1 164 000
Range Rover V8 SC (drukaanjaer)
Enjin: 5,0 liter V8 drukaanjaer
Krag: 375 kW
Draaimoment: 625 Nm
0-100 km/h: 6,2 sekondes
Topsnelheid: 225 km/h
Petrolverbruik: 14,9 liter per 100 km
CO²-uitlate: 294 g/km
Prys: R1 204 000
*Vir die mense wat hulle motor met spesifieke keuses wil versier, is daar die Range Rover Autobiography-reeks. Hier kan jy byvoorbeeld (teen ‘n addisionele koste natuurlik) jou eie hout gee wat Range Rover moet gebruik, of spesifieke leer van jou plaas. Die koste van so ‘n voertuig begin by R1,3 miljoen.