Nog voordat die hekke geopen het vir MSA se nasionale ovaalbaanrenne, het deelnemers en toeskouers al tou gestaan by die hekke. ’n Toeskouer berig vir WIEL.
Teen 12:00 was die 1660-sedanklas gereeld om onder die oë van MSA (Motorsport Suid-Afrika) se tegniese konsultant, Nick van Rensburg deur te loop. Hierdie klas het uit 61 deelnemers bestaan wat van onder meer Bloemfontein, Port Elizabeth en Oos-Londen gekom het.
1660-klas
Ongelukkig was die huidige 1660-kampion, Alex Bailey se Citroën C2 teen die 16:00 afsnytyd nie klaar nie, en die nuus dat hy nie gaan deelneem nie, het vinnig versprei. Verder het talle deelnemers ook hulle strategiee vir die wedren heroorweeg, aangesien 1660-legende, Curt Alchin, ook nie aan hierdie wedren sou deelneem nie.
Dit is duidelik dat almal gereed was vir die aksie, want toe die renjaers byeenkom vir die finale bestuurderspraatjie voor die begin van die wedren was die plek gepak met toeskouers.
Na ’n opwindende wedren was dit Christo van Staden wat met eerste plek weggeloop het met sy Merbeda/AutoPro Golf. In tweede plek was JP du Plessis in sy KwikFit Sentra wat een eerste plek en ’n tweede plek in die uitdunne ingepalm het.
Tiaan Scott het sy tuisgrond tot sy voordeel gebruik en in ’n algehele derde plek geëindig. Wesley Collins het vierde geëindig, ’n indrukwekkende uitslag, veral as mens in ag neem dat dit sy eerste keer op hierdie baan was. In vierde plek was David Koegelenberg in sy Santienie Body Repairs/Motor Pride Golf.
Johan Olwagen het ’n verbasende wedren gejaag nadat hy talle renjaers verbygejaag het en in sesde plek geëindig het nadat hy vanuit ʼn swak wegspringplek homself moes bewys.
2.1-klas
Huidige kampioen in die 2.1-sedanklas, Pieter Kotze het die res van die renjaers gewys hoe dinge gedoen word in sy geleende Novel Ford Fiesta. Sy naaste teenstander was Dewald de Villiers in sy W/M Contractors Peugeot terwyl Anton Swanepoel met sy Crankshaft Centre/Taxis Lanes Golf van Bloemfontein derde geëindig het.
Ongelukkig het Nicky Koegelenberg met sy Sentraal Bakwerke Corsa twee DNF’s (Did not finish) op die tellingbord gesit. Hy sal homself sterk moet bewys wanneer sy klas op die PEOTR-baan in Port Elizabeth op die 6de Maart jaag.
Super Hotrod-klas
In die Super Hotrod-klas het Dewald de Villiers met sy wankel-aangedrewe WM Contractors Corsa eerste plek behaal terwyl Dewald Randt gelukkig was met sy beste vertoning nog by hierdie baan met ’n algehele tweede plek in sy GAS graphics Clio.
Nicky Koegelenberg het beter gevaar hier met ’n derde plek met sy tweede Sentraal Bakwerke Corsa. In vierde plek was Piet Scheepers van Port Elizabeth met sy Capri Spares Peugeot terwyl die oudste deelnemer Richard Griessen duidelik bewys het dat hy nog ’n sterk kompeterende vermoë beskik.