Op Saterdag 23 Januarie bied Tygerberg Raceway in Kraaifontein die eerste wedren vir ovaalbaanrenne in 2010 aan. 'n Toeskouer rapporteer oor komende Saterdag se wedrenne. Die dag word geborg deur P A Transport, Brackenfell
In die 2.1 liter sedan-klas is Dewald de Villiers tans die voorloper met Raymond Jefferies kort op sy hakke in tweede plek. Die derde plek word gevul deur Alex Bailey. Ander jaers in hierdie klas is Brennon Green, Thys Valentyn en Hennie de Witt.
Alex Bayley neem die voortou in die 1 660 cm³-klas, terwyl Marius Brink en David Koegelenberg die tweede- en derdeplekke beklee.
Tiaan Scott en Jacques Swart is jaers wat dopgehou moet word tesame met JP du Plessis en Faan Oosthuizen.
In die midget-klas kraai Altus Smit tans koning, terwyl PJ Fourie en Anco Jordaan als in hul vermoë doen om Smit uit te oorlê. Bernard Theron is slaggereed om hierdie manne 'n ding of twee te wys en het talle veranderinge aan sy motor aangebring om sy kans te verbeter.
Glen de Jongh en Corrie de Ronde moet omtrent kophou met Leon Botha wat in hul nekke blaas in die super midget-klas. De Jongh en de Ronde is tans in die eerste plek met Botha wat 'n skrale vyf punte agter hierdie twee manne is. Dante de Ronde is ook 'n jaer wat nie buite rekening gelaat moet word nie.
In die Amerikaanse sedan-klas haal Morne Groenewald nou vinnig in op Marius Groenewald wat slegs vyf punte voorloop. Robert Groenewald gaan weer sy allerbeste lewer in sy pragtig voorbereide motor en ons hoop dat Jacques Groenewald ook sy verskyning gaan maak.
Dewald de Villiers sorg vir hope aksie in die hotrod-klas tesame met Raymond Jefferies, Tony Geyer en Brennon Green.
In die mini senior-klas is Cedric Burger slaggereed vir die jaers wat hom die stryd wil aansê. Francois van Rhyn is tans tweede op die punteboord met Andre Bester, Richard Tomlinson en Boy Scott wat op Burger volg.
Matthew Jefferies probeer baie hard in die mini junior-klas om Basie Burger te onttroon as klubkampioen. Basie is weereens die voorloper op hierdie stadium.
Besonderhede:
Hekke open Saterdag om 14:00
Wedrenne begin om 18:00
Toegang: R40 per volwassene, R20 vir skoliere onder 15 jaar
*Die nasionale byeenkoms vind ook by Tygerberg plaas op 6 Februarie 2010.