Ek HAAT Michael Schumacher.
Ek haat hom meer as die Aussie krieketspan. Meer as ʼn Bulls oorwinning oor die WP. En ja, selfs meer as ʼn besoek aan die tandarts. Maar die nuus dat die man agter die anonieme wit valhelm sy terugkeer na Formule 1 gaan maak, het my anders laat dink.
Hierdie sewemalige kampioen het my grensloos geïrriteer terwyl hy Sondag na Sondag ʼn grap gemaak het van feitlik alle ander F1-jaers. Soms het dit gelyk asof hy die tyd het om ʼn Harry Potter boek te lees terwyl hy ʼn rondte voor almal was tot en met die sesde plek.
Ek kry die gevoel hy is half mens, half masjien, en blykbaar was Deep Blue (die ‘slim’ rekenaar wat teen Gary Kasparov skaak gespeel het) op sy brein gemodelleer. G’n wonder Top Gear het hom as die dubbelganger van die Stig gebruik nie – ʼn figuur wat as die toppunt van bestuursvermoë gesien word.
Dan is daar die man se subtiele arrogansie. Hy’t die vermetelheid gehad om sonder ʼn oogknip (en met ʼn pap band!) Damon Hill in 1994 teen die muur te forseer om te verseker dat hy die kampioenskap kon inpalm. In 1997 het hy (gelukkig onsuksesvol) probeer om Jacques Villeneuve in die sand te stoot en in 2006 stop hy in die middel van baan tydens kwalifisering by Monaco om te verhoed dat Alonso ʼn goeie tyd opstel. Hierdie was nie foute nie, maar welberekende skuiwe om sy doel van algehele dominansie te verwesenlik.
Laat in Desember 2009 het gerugte die rondte begin doen dat Herr Schumacher na ʼn droogte van drie jaar sy renskoene weer gaan aanpas. Na Felipe Massa se byna fatale ongeluk was die moontlikheid daar dat Schumie sy plek sou vat, maar ʼn nekbesering wat hy tydens ʼn motorfiets ongeluk opgedoen het, het ʼn stokkie daarvoor gesteek. Intussen het hy sy nek sterker as Bismark du Plessis s’n gekry en na Button die swakste besluit van sy lewe geneem het (deur na McLaren te skuif) was die legkaartstukke besig om in plek te val. Terloops, dink Button hy gaan gelyke behandeling kry terwyl Ron Dennis se ‘aangenome’ kind nog in die span is? Glo my, hy gaan soos ʼn stiefkind voel en elke aand se toonnaels uittrek oor sy skuif na McHamilton.
Die volgende gaping in die legkaart is gevul deur Mercedes wat Brawn oorgeneem het, na dinge tussen die Duitse enjinverskaffer en McLaren begin suur raak het. Blykbaar bestaan daar ‘konflik’ as ʼn Duitse vervaardiger enjins verskaf aan ʼn Britse maatskappy wat besig is om ʼn teenvoeter vir die Merc SLS te bou ... Merc het natuurlik ʼn Duitse bestuurder gesoek, en een wat die borge ure se blootstelling sal gee (nie die tipe blootstelling waarmee ʼn sekere mnr. Woods besig is nie...).
Nico Rosberg, wat al ʼn paar jaar se ervaring het, was reeds geteken, maar is nog nie op die Massa/Hamilton/Vettel vlak nie, en het die persoonlikheid van ʼn appel. Wat Merc gesoek het, is iemand met die instinkte van ʼn wolf het en wat die jong latte bloedneus kan slaan. Iemand wat gereeld die hoofopskrifte sal haal.
Wel, ʼn beter jaer as Schumacher kon hulle nie gekry het nie, en met die vennootskap tussen hom en Ross Brawn wat weer gaan vlam vat, sweet die F1-kindertuin seker reeds in hul slaap. Met ʼn rekord van 91 oorwinnings in 249 wedrenne behoort Rosberg twee keer te dink voor hy goed kwyt raak soos ‘Schumacher sal ʼn tydjie vat om weer aan te pas’. Ek sien al hoe huil Rosberg later vanjaar op sy ma se skouer...
Ek kan nie wag vir die 2010 seisoen nie. Eerstens is daar ‘Babyface’ Hamilton en Button in die McLarens. Massa is terug by Ferrari en hopelik kan Alonso sy Spaanse mojo terug kry wat hom ʼn dubbel kampioen gemaak het. Vettel (wat ek dink die volgende ‘Schumacher’ gaan word) sal dié jaar wil seker maak hy vryf die ander manne se neuse in sauerkraut. En dan is daar die Meester. Die 41-jarige menslike masjien wat soos ʼn bloedsuier onder die kompetisie (en hul ondersteuners) se velle gaan klim.
Ek hoop nie hy wen wéér ʼn kampioenskap nie. Maar hy moet dêm naby daaraan kom!-PK
NS: Sal iemand net die polisie bel om te keer dat Ralf ‘My-ma-is-vinniger-as-ek’ Schumacher nie ʼn hertoetrede tot F1 maak nie!
posted by: Rudolph on 2010/03/29
posted by: Riaan on 2010/01/29
posted by: Johan on 2010/01/28
posted by: S.Smit on 2010/01/27
posted by: Schumi fan on 2010/01/27