Daar is sekere oortredinge wat ʼn mens die oë ʼn bietjie voor kan toeknyp, dinge soos om nie jou flikkerlig te gebruik nie by ‘n plaaspad-kruising 200 km buite Pofadder. Alhoewel ek dit nie goedkeur nie, is dit ook te vergewe as iemand effens oor die spoedgrens kruip, veral tussen Springbok en Upington. Waar daar geen grasie vir vergifnis is nie, is wanneer mense doodeenvoudig net nie hulself, maar ook ander in gevaar stel deur blote dwaasheid.
Ek wil stem dik maak oor eenvoudige nalatigheid as dit by padveiligheid kom, veral deur ouers teenoor hulle kinders. Om die waarheid te sê, maak dit nie saak hoe lief jy jou kind het of hoe goed ʼn ma of pa jy te huis is nie, dis alles tevergeefs as jy nalatig is in jou voertuig.
So gereeld sien ek families in ʼn motor met die klein kindertjies wat of op die volwassenes se skote sit, of tussen die agter- en voorsitplekke rond rits. Indien enigiemand nog nie weet hoe dit passasiers affekteer wanneer die bestuurder hard op die remme klim nie, probeer dit dan self êrens veilig.
Alles wat nie vasgegordel is nie, beoog om die wêreld daar buite, binne te tree met die voorruit as hulle uitgang. Dit is slegs wanneer sterk gerem word, wat nog van ʼn botsing wat amper ʼn oombliklike stilstand veroorsaak?
As jou kind ongegordel op die agtersitplekke ronddwaal, kan hulle nie net hulle eie dood nie, maar ook joune veroorsaak. Al is hulle nog jonk, kan julle koppe bots en ernstige skade veroorsaak.
Maar dit is nie so erg soos wat ek vanmôre in die verkeer gesien het nie. ʼn Ouer ry met ʼn Microbus en laat sy dogtertjie van ongeveer drie jaar oud op die passasier sitplek staan. Ek vra myself of hy nie daaraan dink dat ʼn skielike remaksie of botsing sy dogtertjie deur die voorruit gaan stuur nie?
Hierdie dinge is vanselfsprekend en ek wil mense aanmoedig om eerder hulle kinders op die agtersitplekke vas te gordel, al is dit net gou kafee toe om brood te koop. Hulle sit dan in die middel van die voertuig waar hulle hopelik die minste impak sal ontvang indien iets sou gebeur.
Asseblief ouers, moenie dwaas wees nie!-Bijon de Kock