Wieke en Wiele is ʼn skou wat jaarliks gedurende April by die Paryse lughawe aangebied word. Dit is vanjaar die vyfde skou en vind plaas op 17 April 2010.
Die hekke open om al 07:00 en die dag kom eers teen 16:00 die middag tot ʼn einde terwyl ʼn verskeidenheid kos- en vlooimarkstalletjies ʼn gesellige plattelandse atmosfeer sal verleen.
Die skou het oor die afgelope vyf jaar fenomenaal gegroei en behels nou die vertoon van alle soorte vervoer. Die organiseerders doen hul bes om soveel moontlik klassieke motors, moderne motors, trekkers, ou plaas doef-doef-enjins en motorfietse bymekaar te kry. ʼn Groot aantal motorklubs met motors soos ʼn 1931 De Soto SA Roadster, 1931 Austin Seven, 1937 Citroën Light 15 en asook Chevrolets, Fords, Morrisse en Borgwards en vele meer sal te siene wees.
Suzuki bied hul markiestent vir uitgenooide gaste aan en bring ook van die nuutste Suzuki modelle vir vertoon en toetsritte saam.
Lugvervoer bestaan uit vliegtuie, helikopters, mikros, giros en warmlugballonne en daar sal ook ʼn mini lugskou aangebied word. Die Pitts Specials van Scully Levin en die Castrol Academy Harvards sal sorg vir asemrowende toertjies. Daarbenewens sal vliegtuie soos Tiger Moths, ʼn Albatros en vele meer moderne vliegtuie te siene wees.
Vir meer inligting, skakel gerus Pierre by: 082 686 7209